Bloedneus vir staat se suikertaks?

Die Regering se voorneme om suikerbelasting op koeldrank te hef het dalk ’n bloedneus gekry met die afdanking van die Minister van Finansies, mnr. Pravin Gordhan.

Volgens BevSA, die koeldrankvereniging van Suid-Afrika, bring die nuwe minister ook nuwe geleenthede en nuwe idees om die voorgestelde suikerbelasting teen te staan.

Mnr. Tsepo Marumule, korporatiewe bestuurder van BevSA, meen die suikerbelasting gaan ondoeltreffend wees om vetsug die hoof te bied. “Die Regering se hoofdoel met die belasting is om vetsug aan te spreek. Belasting is ’n doeltreffende manier om geld in te samel, maar is die verkeerde voertuig om ’n verbetering in die stand van nasionale gesondheid te bewerkstellig.”

‘Suikerblasting sal voortgaan’

Die voormalige Minister van Finansies, mnr. Pravin Gordhan, het in sy begrotingsrede aangekondig dat die suikerbelasting steeds sal voortgaan, maar dat 1 April nie meer die aanvangsdatum is vir die belasting nie. ’n Finale datum vir die Suikerbelastingwet om ingestel te word, is steeds nie bekend nie. Intussen is Gordhan in die pad gesteek en BevSA sien dit as ’n geleentheid vir die bedryf om die voorgestelde belasting met hernude ywer teen te staan.

“Hier is ’n nuwe minister met nuwe idees en menings en dit skep die ruimte vir die bedryf om alternatiewe oplossings te vind om vetsug en ander gesondheidsrisiko’s aan te spreek. Een opsie is om die suiker-inhoud van koeldranke in Suid-Afrika te verminder. Die suikerbelasting gaan meebring dat die prys van koeldrank met tot 25% vir die verbruiker toeneem en dit sal enorme verliese regdeur die bedryf, veral die suikerrietboere, meebring weens laer verkope. Ons wil werkverliese en ekonomiese verliese deur die ganse bedryf so ver moontlik beperk.

“BevSA vergader tans met die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) en die proses is steeds voor die Parlement om oplossings te vind. Navorsing toon egter dat die voorgestelde belasting nie die uitwerking gaan hê op nasionale gesondheid soos wat die Regering se bedoeling is nie.”

Bron: landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2019 . Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?