Politiek roer brandstofpryse ook

Die gevolge van pres. Zuma se onlangse kabinetskommeling is ook ongunstig vir brandstofpryse. ’n Moontlike daling in brandstofpryse is verander in ’n stewige verhoging op 3 Mei weens pres. Jacob Zuma se middernagtelike kabinetskommeling en die skade wat dit aan die rand aangerig het.

Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, sê die skerp verswakking in die rand het ’n regstreekse uitwerking op brandstofpryse en vandaar die verhoging. “Daarmee saam het die prys van Brent ru-olie sedert die einde van Maart met sowat VSA $4/vat gestyg om die verbruiker se sak nog verder te skud.”

Maree sê volgens die gegewens wat in die middel van die maand beskikbaar was, kan verbruikers ’n styging van tussen 44c/l en 48c/l in die prys van petrol verwag en tussen 30c/l en 32c/l in die prys van diesel.

“Die beweging in die wisselkoers is verantwoordelik vir gemiddeld 35c/l in die onderverhaling. In die geval van petrol is die styging in produkprys (ru-olie) gemiddeld 10c/l onderverhaal, maar in die geval van diesel was daar ’n oorverhaling van 3c/l. As daar dus nie die kabinetskommeling en die gepaard gaande afgradering was nie, sou ons waarskynlik ’n daling in brandstofpryse kon sien.”

Maree sê as die rand in ’n mate herstel, kan die verhogings dalk effens minder wees. “Dit lyk of die wisselkoers gestabiliseer het en of daar matige herstel is. Die rand het op 18 April R13,35 teenoor die dollar verhandel, wat aansienlik beter is as die R13,90 ’n paar dae vroeër.

“Nogtans is enige prysverhoging slegte nuus vir verbruikers en landbou-produsente – veral nou op die vooraand van oestyd.”

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2019 . Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?