Jackie Burger en H&M vier eko-vriendelike mode

Mode is op die voorgrond van ons daaglikse bestaan en nou kan jy ook ’n verskil maak deur middel van die klere wat jy kies om te dra. Liezel Malherbe van 9Lives vertel vir ons meer van die nuutste inisiatief deur SA styl-ikoon Jackie Burger en H&M.

 

“Mode vorm ’n groot deel van ons wêreld. Ek is dol daaroor om myself uit te druk deur middel van mooi, interessante en speelse uitrustings. Ongelukkig is kits-mode ook ’n groot problem vir ons omgewing, omdat dit ons waterstelsels beïnvloed, groot hoeveelhede afval tot gevolg het en goedkoop arbeid misbruik. Elke individu kan ’n verskil maak deur verantwoordelike mode-bedrywighede te ondersteun, maar tog moet drastiese skuiwe deur massa-verkopers gemaak word. Dit is juis hoekom ek so opgewonde was om te hoor van die nuutste samewerking tusssen Jackie Burger van Salon 58 en H&M.”

Jackie Burger en H&M het saamgespan vir Salon 58 se mees onlangse aandparty by Gallery Momo wat gefokus het op eko-vriendelike mode.

“H&M se Conscious Exclusive collection wys hoe die beste styl tog in die planeet se belang kan wees deur te help met die beskerming van sy toekoms,” sê Natalia Vodianova, die gesig van H&M se nuwe eko-vriendelike versameling. “Dit is so ’n begeerlike versameling met stukke wat van eko-vriendelike materiaal gemaak is wat jy nog sal wil dra in die seisoene wat kom.”

Die doel van die aandparty was om te praat oor bewuste kopersgedrag in die modebedryf. Burger sê “om goed te lyk en goed te voel gaan nie meer oor ondeurdagte kopies nie, maar eerder kreatiewe vryheid en bemagtiging. Dit begin alles deur gemaklik te wees met jou persoonlike, outentieke uitdrukking van wie jy is. Mode is nie veronderstel om die besluitnemer te wees van wat ons mag en nie mag aantrek nie.”

Sy glo dat dit van ons vereis om eko-vriendelik te wees in alles wat ons doen. Dit is iets wat die Sweedse handelaars ’n prioriteit gemaak het in hul 2016 volhoubaarheidsverslag. Die rokke, broeke, hemde en rompe wat deel vorm van die reeks is alles gemaak van herwinde of eko-vriendelike materiaal. Die hoogtepunt was ’n pienk ragfyn aandrok gemaak van sagte chiffon wat voorheen opgespoelde plastiek op ’n strand was.

Bykomend tot die bioniese fabriek, is H&M die wêreld se grootste katoenverbruiker wat gesertifiseer is deur die Better Cotton-inisiatief. Hulle doel is om teen 2030 slegs herwinde- of volhoubare materiale te gebruik asook dat die algehele maatskappy teen 2040 klimaatpositief te wees. Die taak begin deur om slegs hernubare krag in die produksie-ketting te gebruik.

Uitgekieste paneellede het aangesluit by Burger en Amelia-May Woudstra van H&M se gesprek oor ’n bedagte leefstyl en wat dit vir elkeen van hulle beteken. Soos SARIE-redakteur, Michelle van Breda dit gestel het, “daar is ’n manier om dinge anders te doen in die lewe.

“Daar is ’n manier om anders te dink in die lewe. Vanuit ’n mode-perspektief, het mode- navorser en antropoloog, Erica de Greef uitgewys dat dit van ons vereis om stadiger te beweeg in plaas van om konstant te probeer by bly. “Die bedryf sal saam met ons verander as ons versigtige, verantwoordelike en deurdagte besluite neem.”

Om te illustreer hoe maklik dit kan wees om ’n meer volhoubare benadering tot mode te hê, is gaste gevra om ongewenste klere saam te bring en dit in die herwinningshouer te gooi wat deur H&M se Garment Collecting-inisiatief verskaf is. Sedert die bekendstelling is meer as 35 000 ton kledingstukke versamel. In ruil is kopers vergoed met geskenkbewyse wat hulle met hul volgende H&M-aankoop kan gebruik.

Die H&M Conscious Exclusive 2017-versameling word op 20 April in H&M-winkels bekend gestel.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2019 . Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?