Laerskool Vredendal hou spog kleure-atletiek

Die groen- en geelspan van Laerskool Vredendal het op Vrydag, 27 Januarie, sake op die atletiekbaan uitgespook. Dit was ’n koel, mistige oggend. Ons hoofleerderverteenwoordigers, Anchen Fouché en Lambrecht Cornelissen, het die geleentheid op ’n gepaste wyse geopen.

Hierna het die dirigente van die geelspan op ’n geel trok hul verskyning gemaak. Die Geles het hul emoji-vlaggies geesdriftig gewaai om hul dirigente, Theuns, Pierre, Stanton, Cee-Jay, Franzelle, Cise-Leigh, Chanté en Nikki te verwelkom. Hulle het bekend gestaan as die Super Emoji’s. Hulle oulike gelukbringertjies, Lulu en Kara, het saam met hulle ’n passievolle dans uitgevoer.

Daarna was die dirigente van die groenspan se beurt. Die groen zombies het hul verskyning op ’n ewe groen bakkie gemaak. Hul dirigente was Jana, Wayd, Dermonté, Ambrozhia, Philip en Anli. Die baba-zombies, hul gelukbringertjies, was Maria en Jaco. Almal se asems was deur die Groenes se opgewekte dansie weggeslaan.

Nadat die spanne rustig geraak het, het die atletiek in alle erns begin. Tydens die verrigtinge was daar die heerlikste smulkosse by die snoepie te koop aangebied.

Sommige leerders het werklik vir opwinding gesorg. Daar is agt rekords verbeter en twee geëwenaar. Johancion Benn het die S7 80m van 12,8s geëwenaar en Cheran Williams het die S11 100m van 14,0s, geëwenaar. Marli de Beer (D14) het twee rekords opgestel, nl. 800m (2:41,8) en 1500m (5:42,5).

Die volgende atlete het ook rekords verbeter, nl. Anja Coetzee D10 gewigstoot (7,95m), Jumahl Josephs S8 80m (12,8s), Lian Janse van Rensburg S12 150m (21,0s), Raylene Vries D12 150m (21,5s), Jané de Beer D10 1200m (4:28, 1) en die D10 aflos (67,34s). Sebastian van der Westhuizen en Zani Huisamen is onderskeidelik as Victor- en Victrix Lodorum aangewys. ’n Hartlike gelukwensing aan al hierdie leerders!

Die Groenspan het weer koning gekraai met die meeste punte op die telbord. Die Geelspan was baie trots op die sangbeker. ’n Heerlike dag vol opwinding en lekkerte het tot ’n einde gekom. Ons as leerders sê baie dankie aan die organiseerders en alle mense betrokke by hierdie spesiale dag.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2019 . Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?